Doringdraadstories vertel van sorgelose plaaskinders wat wild grootgeword het met koel Vaalriviersand tussen die tone, die roep van visarende en familiekuiers om eetkamertafels.
Die skrywer onthou lekkerkuierstories uit sy jongdae: stories met stertjies, want sonder ʼn titseltjie verbuiging is sulke stories soos kos sonder speserye. Dit was tye toe die lewe ongekompliseerd, misdaadvry en minder gejaagd was; toe daar altyd tyd vir gesels en onverwagte gaste was.
Geniet sy verhale oor paraffienyskaste, diamantsmokkelary en 1950’s-inryteaters waar Wilde Weste-helde twaalf skote uit six-shooters kon kry, sonder herlaai. Dit was tye toe lekkie pêkets se pienk diakenpille en jêp skrêp-speelgoed ‘n kind se grootste drome bewaarheid het.
Daar is stories oor swaarkry: van voorgeslagte se geswoeg ná Kitchener se verskroeideaardebeleid; versengende droogtes; uitmergelende veevoerskuld.
Doringdraadstories nooi lesers om ‘n paar oomblikke tot rus te kom en ‘n bietjie suiwer nostalgie te geniet.
No comments:
Post a Comment