Friday 20 August 2021

Omslagontwerp en uitleg deur Stella Stofberg


 YSTERKLOU BEPERK

Ysterklou is reeds voor die Engelse Oorlog Herk Drie Hamman se beskeie tuiste vir sy familie se sakebelange. Die maatskappy groei tot ’n reus, maar sukses kom nie sonder sonde nie; Ysterklou het meer geraamtes in die kas as geld in die bank. Op Vrischgewaagt boer net vroue, en met groot sukses. Vier geslagte na mekaar sterf hulle mans jonk en laat net ’n dogter na; gruwelike ongelukke, of iets anders? En die Bakwena se hele bekende wêreld word omver gewerp deur die onverwagte koms van die basweu – wit mense – wat gekom het en bly. Maar, danksy versiende hoofmanne, staan die Bakwena ook sterk.

Niemand bly onaangeraak nie. Maar drie sterk bulle is te veel vir Zandfontein se klein kraaltjie.

Eenkant, uit die hoofstroom, in die skadu van die Magaliesberg –die ou Kashan-berg – leef en sterf helde en skurke, heiliges en owerspelers, woestaards en wellustelinge; gewone mense ook. Die mooiste en lelikste van die lewe bind die Zandfonteiners. Die jongste geslag stry om sin te maak van die hede; die verlede is verby, die toekoms is onseker.

Genoeg is altyd nog meer as wat ’n mens het. Die magtige Ysterklou het sy oog op die Vrischgewaagt-vroue se uitgebreide agribesigheid, asook die skatte onder die Bakwena se grond; dalk is daar selfs diamante. Op hulle beurt beplan die Vrischgewaagt-vroue en die Bakwena om die Hammans ’n streep te trek en beheer van Ysterklou te verkry; daardie pot goud is net te begeerlik.

Uiteindelik, op dáárdie vergadering, dryf Erika Hamman sake op die spits en niks is ooit weer dieselfde nie.

No comments:

Post a Comment